News & Industry Articles

Nader aan ‘n oplossing vir someronvrugbaarheid

Posted by:

Dr. D.P. Visser – LNR – DVI, Irene

Die primitiewe mens uit die Jonger Steentydperk, ongeveer 8 500 jaar gelede, het die eerste daadwerklike poging aangewend om die wilde vark mak te maak. Volgens Zeuner het die proses van mak maak in vier definitiewe fases plaasgevind.  Waarskynlik lê die wortel van someronvrugbaarheid gesetel in die derde en vierde makmaakfases van die vark!Die derde fase — Die primitiewe mens het al hoe meer oor die vark begin leer.  Sy stimulering, insig en ervaring met die gasspesie het daartoe gelei dat daar begin is om varke te  selekteer op grond van “gewensde” eienskappe soos byvoorbeeld vir temperament en saggeaardheid — want om destyds varke te kon vang was nie maklik nie.  Heel dikwels het hond, ruiter en perd erg deurgeloop.  Geen wonder dat die gesogde beer-jag (“boar hunt”) ’n hoogtepunt op die jaarlikse jagkalender was nie!

Selektiewe terugkruising na die wilde vark (bekend vir sy seisoenale teelprogram en fisiologie) het waarskynlik groter diere tot gevolg gehad met ‘n groter ekonomiese waarde. Hierdie fase kan inderdaad met doelgerigte seleksie geassosieer word.

Gedurende die vierde fase het die aanvanklike wilde vark (geneties geprogrammeer om te paar en jong volgens die jaarlikse biologiese ritme van die seisoene ten einde ten volle in harmonie met die natuur saam te leef) geen verdere bydrae tot die “nuwe verbeterde ras” gemaak nie.  Kruisteling of selektiewe terugkruising met en na die wilde vark is gesien as ‘n swak praktyk met ‘n baie slegte invloed.  Hoewel die makmaak-era van Sus scrofa en Sus domesticus, gemeet aan die totaliteit van evolusie, maar ‘n klein fraksie van die tyd is, het dit onteenseglik gelei tot belangrike morfologiese en fenotipiese veranderinge by die vark.

SOMERONVRUGBAARHEID:  ‘N SINOPSIS

Hoewel someronvrugbaarheid (of te wel die Someronvrugbaarheidsindroom) al deur baie navorsers op verskillende kontinente nagevors is (word), blyk dit ‘n probleem te wees wat hom hoofsaaklik manifesteer in lande met baie warm somers soos Australië, Suid-Afrika, Suid-Europa, Brazilië en die VSA.

Kliniese simptome van die Someronvrugbaarheidsindroom

1. Die jongingstempo van sôe wat gedek word in die winter (Einde Mei tot Augustus) is gewoonlik drie tot vier persent hoër as sôe wat gedek word in die somer (November tot Februarie).

2. Sôe wat jaarliks aborteer, bereik gewoonlik ‘n piek in Maart, wanneer ongeveer elf persent van die sôe aborteer en ‘n laagtepunt in Oktober wanneer slegs ongeveer ses persent van die sôe aborteer.

3. Toe someronvrugbaarheid in 1994 vir die eerste keer onder die navorsingssoeklig in Suid-Afrika gekom het, is bereken dat someronvrugbaarheid die varkboere en die bedryf geld kos — in daardie stadium tussen R4 en R5 miljoen per jaar.

4. Met die huidige gunstige mielie-en- vleis-ruilvoet sal die koste/verlies vir die varkboere waarskynlik tussen R15 miljoen en R20 miljoen wissel.

5. Hittestres van die sôe, hetsy deur uitermate hoë temperature en onvoldoende afkoelingsfasiliteite — of deur hoë temperature en hoë humiditeits-vlakke, speel ‘n groot rol.

6. Hittestres beïnvloed ook die bere.  Enersyds ‘n inhiberende effek op libido en ferromoonsekresie en andersyds op spermatogenesis wat eers vier tot vyf weke later ná ekstreme temperature (290C – 320C of hoër) gemanifesteer word in sub-optimale semenproduksie en semenkonsentrasies.  Wyle Professor Jan Bonsma was van mening dat “die mees sensitiewe aanpassings-indeks by alle diere is hulle vermoë om gereeld te produseer en reproduseer.  Die endokrienebalans is die mees sensitiewe barometer van ‘n dier se vermoë om by ‘n bepaalde  klimaat aan te pas”.

7. Onvoldoende bestuurservaring en “stockmanship”.

8. Onvermoë van bestuur om aan te pas by ‘n veranderde omgewing.

DIE PROJEK

Gedurende Januarie 1999 is die volgende projek: “’n Ondersoek na die             Someronvrugbaarheidsindroom in Suid-Afrikaanse varkkuddes” amptelik by die LNR – DVI op Irene geregistreer.

Die langtermyndoelwitte van die projek was:

a) Om die moontlike oorsake van verlaagde seisoenale infertiliteit by vervangingsôe, sôe en bere te bepaal — veral in kuddes waar die hoogste voorkoms van seisoenale onvrugbaarheid is.

b) Om ‘n strategie te ontwikkel en praktiese aanbevelings daar te stel ten einde someronvrugbaarheid te minimaliseer.

Gedurende die afgelope ses jaar is navorsing gedoen op verskillende plase — verteenwoordigend van die geografiese verspreiding van varke in Suid-Afrika met drie fokusareas:

1. Reproduksie

  • Dragtigheidstempo tydens 1e en 2e  dekking
  • Sôe wat geaborteer het na 1e en 2e  dekking

2. Mikotoksiene en die effek daarvan op reproduksie (veral Zeralenoon en in ‘n mindere mate Deoxynivalenool)

3. Die invloed van fotoperiode (dagliglengte) as ‘n bydraende faktor tot die someronvrugbaarheidsindroom by varke.

BELANGRIKSTE BEVINDINGE

1. Die effek van plaas op die komponente van vrugbaarheid blyk groter te wees as die effek van seisoen as sulks.

2. Die Zeralenoon (ZEN) inhoud van die voermonsters van die verskillende plase is ontleed by wyse van die GENSTAT statistiese program.  Die effekte van seisoen, plaas en die seisoen x plaas interaksie is getoets en was almal hoogs betekenisvol (p < 0.001) wat inpliseer het dat:

Tussen seisoene was daar betekenisvolle verskille in die ZEN- inhoud van die voere.

Tussen die verskillende plase was daar ook betekenisvolle verskille in die ZEN-inhoud van die voere.

Die effek van seisoen op die ZEN- inhoud van die voere was nie in ooreenstemming met die verskillende plase nie (met ander woorde:  ‘n seisoen plaas interaksie).

3. Die plase is vanweë die interaksie tussen seisoen en plaas verder geklassifiseer in binnelandse plase (N = 6) en kusplase (N = 3).  Die klassifikasie was ook min of meer verteenwoordigend van nat somers teenoor nat winters (Sien Tabel 1 en Tabel 2).

4. Uit Tabel 1 is dit duidelik dat daar merkbare verskille in die ZEN-vlakke van die voermonsters was by die binnelandse plase tussen somer en winter.

5. Mikotoksienkontaminasie van die voere (met ‘n kousale verband op veral sogreproduksie) blyk veral gedurende die somermaande ‘n probleem in die binneland te wees — waarskynlik vanweë die kombinasie van hitte en humiditeit.  Hierdie argument word verder bevestig deurdat die effek van streek ‘n betekenisvolle effek op dragtigheidstempo gehad het.  Betekenisvolle hoër dragtigheidstempo’s (p < 0.01) is behaal in die kusstreek, dan die binneland (Sien Tabel 3, bl 20) vir sowel eerste dekkings (97.5% vs 93.8%) en tweede dekkings (86.6% vs 68.4%)

GEVOLGTREKKING

1. Someronvrugbaarheid bly in wese ‘n komplekse sindroom.  Dit word beïnvloed deur klimaatstoestande (reënval, humiditeit, temperatuur en dagliglengte) binne die strekking van gedifferensieerde bioklimaat areas (streke), die teenwoordigheid van mikotoksiene, die genotipe en endokriene balans van die dier, omgewingsfaktore en bestuursaspekte.

2. Gedurende die piek somerseisoen in Suid-Afrika dra die volgende faktore almal by tot ‘n groter intensiteit van die Someronvrugbaarheidsindroom en derhalwe swakker reproduksie in die gemiddelde varkkudde in Suid-Afrika:

  • swakker konsepsiesyfers
  • sôe wat herhaaldelik terugkeer tot die beer (of tydens KI)
  • aborsies [waarskynlik as gevolg van die teenwoordigheid en invloed van mikotoksiene, veral ZEN, maar daar mag verskeie (honderde) ander swam- variante ook betrokke wees]
  • verlaagde beerlibido (en verminderde ferromoonaktiwiteit)
  • swakker semenkwaliteit

3. Dit blyk dat daar ‘n direkte verband tussen die ZEN-vlakke in die voer en konsepsiesyfer by sôe is.  Dit is bekend dat sekere mikotoksiene wel vrugbaarheid by jong sôe en sôe inhibeer vanweë hulle estrogeniese eienskappe.

4. Seisoen per se het geen effek op konsepsiesyfer gehad nie, maar streek het wel ‘n betekenisvolle effek gehad op konsepsiesyfers.  Hoër konsepsiesyfers is deurgaans in die kusstreek as die binneland behaal.

5. Dit is onrusbarend dat in een spesifieke kudde 92% van die somervoermonsters met ZEN besmet was.

RIGLYNE OM SOMERONVRUGBAARHEIDSINDROOM BETER TE BESTUUR

1. Ontleed jou eie kudde se reproduksiesyfers die afgelope drie tot vier jaar statisties en kyk of jy ‘n betekenisvolle tendens kan waarneem en wat die omvang van someronvrugbaarheid in jou kudde is.

2. Moontlik doen produsente-oorparing gedurende die piek somermaande en ondervind oënskynlik geen probleem nie.  Dit is nie te sê daar is nie ‘n someronvrugbaarheidsprobleem nie – dit word dalk net beter verbloem/ bestuur.

3. In kuddes wat oorwegend bere gebruik, is dit wenslik om van KI en natuurlike paring of slegs KI gedurende die piek somermaande gebruik te maak.

4. Sorg dat semen van geakkrediteerde KI-stasies verkry word wat die gehalte van semen 52 weke van die jaar en sewe dae van die week kan waarborg.

5. Waar van natuurlike dekkings gebruik gemaak word, moet die beerhuis veral in die somermaande koel gehou word hetsy deur waaiers, lugversorging (in ekstreme gevalle), ‘n water missproei, insulasie van die dak, die natspuit van die bere en die vloer met gepaardgaande lugvloei.  Noodwendig is termometers ‘n voorvereiste in dié verband.

6. Onthou die effek van uitermate hitteblootstelling (> 28°C) in die geval van die beer word eers vier tot sewe weke later gemanifesteer in verlaagde semenproduksie, swakker semenkwaliteit en sôe wat nie beset raak nie.

7. In die geval van sôe sal normale bevrugting, embrioniese ontwikkeling en embrioniese vrektes deur uitermate hoë hitteblootstelling geaffekteer word – wat gemanifesteer word in verlaagde reproduksie.

8. Sogenaamde dripverkoelers kan aangewend word digby die ore van die vark ten einde optimale verkoeling te verseker — juis by die gedeelte van die liggaam waar die bloedvate nader aan die vel is.

9. Luiser en verstaan die lyftaal van die sog.  Sy gaan vir jou sê as sy ongemaklik is.  Hou haar eerder te nat as te droog in die somer.  Sorg dat sy deurgaans vars, koel water inneem en dat die water se drukking voldoende is.

10. Hou die termometers op die plaas en in die verskillende sale dop en tree voorkomend op.

11. Uitermate hoë hittestres gedurende laktasie beïnvloed ook inname van die sog, haar melkproduksie, die groeivermoë van haar varkies en het ‘n verlengde speen tot estrus- siklus tot gevolg.  Bespreek die inname van ‘n hoë digtheidsdieet gedurende laktasie met jou voedingkundige.  Dit gaan veral oor die vrystelling van voldoende en vrugbare ova in die volgende estrussiklus.

12. Gegewe die feit dat betekenisvol hoër mikotoksienvlakke in die somervoermonsters van die binneland gevind is, moet die aspek aangespreek word.  Om die ware stand van mikotoksiene op jou plaas te bepaal moet biede ZEN en DON ontleed word (verkieslik gedurende winter en somer).

13. Afhangende van die uitslae moet die stoor van voer ondersoek word, die tipe silo’s in gebruik, die bron vanwaar die mielies verkry is en hoe lank die mielies gestoor is (word) voor gebruik. ‘n Hoë druk stoom skoonmaak van silo’s elke ses tot 12 maande hou verdere voordele in vir die algemene siektestatus in die kudde, vermindering in mikotoksienvlakke en beter algemene produksie in die kudde.

14. Die gebruik van produkte soos ‘n deaktiveerder van mikotoksiene in nie-herkouervoere, in gevalle waar mikotoksiene wel ‘n probleem is of as ‘n ekstra versekeringspremie, veral gedurende die somermaande in die binneland word, aanbeveel.

15. Die gebruik van sintetiese beer- ferromoon (wat 16-androsteroon as die aanwakkerende ferromoon bevat) gedurende die piek somermaande word sterk aanbeveel.  Sulke produkte  word reeds vir ‘n geruime tyd deur ‘n aantal stoet- en kommersiële boere in Suid-Afrika gebruik.  Dié produk is ‘n gemikroniseerde sproei wat sinteties geproduseerde androstenoon bevat as aktiewe bestanddeel.  Androstenoon in sy natuurlike vorm is verantwoordelik vir die stimulasie van seksuele gedrag in die vroulike dier — beide voor dekking sowel as gedurende dekking.  Die sproei word aangewend deur drie of vier vol spuite naby die snoet van die vroulike dier voor dekking of inseminasie.

16. Onlangse navorsing in Suid-Afrika met betrekking tot fotoperiode toon aan dat die vermindering van dagliglengte in die somer tot 10 ure lig en 14 ure donkerte ‘n voordelige effek het op sekere komponente van vrugbaarheid soos ‘n hoër jongingstempo in die vroeë somer en verhoogde werpselgrootte.  (‘n Breedvoerige artikel sal in ‘n volgende uitgawe van Porcus hieroor verskyn).

TEN SLOTTE

In die navorser se soeke na die waarheid ten einde al die meganismes te verstaan wat betrokke is by die Someronvrugbaarheidsindroom, is dit baie duidelik dat daar nie ‘n enkele hoofoorsaak vir die sindroom is nie, maar eerder ‘n web van interaksies en faktore wat hulself jaarliks onvoorskriftelik en onvoorspelbaar manifesteer.

Die Someronvrugbaarheidsindroom is nog steeds kompleks en ‘n uitdaging vir die navorser, die bedryf en die varkboere ten einde nader aan die ware oplossing te kom.  Vir die varkboer is die vuurtoets in die interim of hy/sy die sindroom reg kan bestuur al dan nie.

Comments are closed.